Borste

Hierdie artikel gaan oor kliere by primate. Vir ’n artikel oor die toraks, sien Bors.
Die vroulike borste.

Die borste is twee uitsteeksels aan die boonste deel van die torso van primate. By vroue dien dit as die melkkliere, wat melk vervaardig en afskei waarmee babas gevoed word,[1] en staan dit ook bekend as buuste. Beide vroue en mans ontwikkel borste uit dieselfde embriologiese weefsel. Tydens puberteit veroorsaak estrogeen en groeihormone borsontwikkeling by menslike vroue, en in ’n mindere mate by ander primate. Borsontwikkeling by ander vroulike primate kom gewoonlik voor wanneer hulle dragtig is.

Onderhuidse vet bedek en omhul ’n netwerk van buise wat by die tepels bymekaarkom, en hierdie weefsel gee aan die borste hulle vorm en grootte. Aan die einde van die buise is lobbe, of trosse alveole (sakkies), waar melk vervaardig en gestoor word in reaksie op hormonale tekens.[2] Gedurende swangerskap reageer die borste op ’n ingewikkelde wisselwerking van hormone, insluitende estrogene, progesterone en prolaktien wat die voltooiing van hulle ontwikkeling bewerkstellig in voorbereiding vir laktasie en borsvoeding.

Benewens hulle belangrikste funksie om voeding aan babas te verskaf, het vroueborste sosiale en seksuele eienskappe. Borste kom voor in antieke en moderne beeldhouwerk, kuns en fotografie. Hulle kan prominent wees in die waarneming van ’n vrou se liggaam en seksuele aanloklikheid. Sommige kulture vereenselwig borste met seksualiteit en beskou die ontbloting van borste in die openbaar as onbetaamlik. Borste, veral tepels, is ’n erogene sone.

  1. "Breast – Definition of breast by Merriam-Webster". merriam-webster.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 September 2015. Besoek op 21 Oktober 2015.
  2. "SEER Training: Breast Anatomy". National Cancer Institute. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2012. Besoek op 9 Mei 2012.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search